Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry by Andries Bezuidenhout published on 2014-08-30T13:27:32Z "Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry" van Andries Bezuidenhout se album "Bleek berus". Geskryf vir 'n huldigingskonsert vir Johannes Kerkorrel. DIS NET WERK TOE WAT EK NOG DEUR HILLBROW RY Liewe Laetitia, ek het lanklaas geskryf, jy weet, dinge gaan maar rof in hierdie bedryf, geen tyd meer vir vriende, of tyd om te onthou, ʼn vinnige e-mail om kontak te hou. My kitaar is vol stof waar dit staan in die hoek, na die trek van die Kaap af is al my LP’s nou soek, daar was bokse vol foto’s, leggers vol briewe, die uitsorteer laat ek nou maar oor aan die diewe. Refrein: En ek weet nie meer vir wie om my hart te gee nie en tog het ek nooit daai ou songs verleer nie. Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry... Jy weet, ek ry nou die dag verby die Chelsea Hotel, vensters toegespyker, haar dae is getel, geen Mini-Cult Cinema, geen Estirol Books. Hoe gaan dit in Londen, het jy gevind wat jy soek? Refrein Bernoldus en Kerkorrel is albei dood en Kombuis se kinders is al amper groot. Laetitia, ek weet ek moet jou keuse respekteer, maar tog moet ek sê ek het iets geleer: Al weet ek nie vir wie om my hart te gee nie en al weet ek nie hoe het ek liefhê verleer nie. Dis net huis toe wat ek nog deur Hillbrow ry tog is ek vasgeanker, moet ek hier bly, is ek deel van hierdie land met liefde en haat, het ek te veel gegee en te veel gevat om die donker land nou te verlaat, om die donker, donker land nou te verlaat. So nag, liewe Laetitia, jy moet lekker slaap, ek druk alweer “delete”, laat ons dit hierby laat. Droom sagte drome in die noordelike nag, in die suide van Afrika sal ek vir jou wag. (c) Andries Bezuidenhout Genre Andries Bezuidenhout